Sunday, September 29, 2019

EMOTIONELE INTELLIGENSIE


EMOTIONELE INTELLIGENSIE


FOTO: ANNELIEN DE BRUYN


Daar is so baie mense wat deur hul emosies beheer word, maar jy kan beheer weer terug neem.

Emotionele intelligensie is om te verstaan waar jou emosies vandaan kom en hoe om dit te beheer. Dit is ook om jouself te ken, jouself te bestuur en om met ander te skakel.

Ons gebruik ons emosies as impulse om te reageer sodat ons die lewe kan hanteer. Daar is mense wat heeltemal oorweldig is met emosies. Daar is mense wat bewus is van hul emosies maar nie daarop reageer nie en dan is daar diegene wat hul emosies verstaan en hoe om dit reg aan te wend.

Die voordele van ‘n gesonde emotionele intelligensie is selfbewustheid, emotionele regulasie, helderheid van gedagtes en optredes, verhoogde empatie, verbeterde sosiale vaardighede, oop tot verandering en balans.

Wat is jou fisiese assosiasie met jou emosies en waarop is jou aandag die heeltyd gerig? Wat is jou taalgebruik rakende emosies en watter betekenis koppel jy aan sekere emosies? Hierdie is alles vrae wat jou kan help om beter jou emosies te kan hanteer en te beheer.

Wednesday, September 18, 2019

VERHOUDINGS






Met so baie faktore wat ‘n rol speel en ‘n invloed het op ons verhoudings, is kommunikasie seker een van die mees uitdagendste. 
Ons huwelike verloor sy opwinding omdat die meeste van ons ophou om te doen dit wat ons saam gedoen het toe ons ontmoet het. 
Dan stap die jare aan en jy gooi nog kinders in die bak saam met finansiële stress en lewens gebeure.

Hoeveel tyd en energie word regtig spandeer om uit te vind hoe ek nou in ‘n nuwe lewensfase kan kommunikeer met my eggenoot? Wat laat hom of haar geliefd voel? Hoe wil ek hê daar moet aan my liefde betoon word? Dinge begin irriteer, ander goed word weer net vanselfsprekend aanvaar. 

Tog bly die behoeftes in ‘n huwelik dieselfde en moet albei tussen die leef nogsteeds konneksie vind. Sodra jy die taal van jou maat verstaan, maak seker dat jy ook die regte dialek het anders kan julle mekaar nogsteeds misverstaan.

Op die ou end van die dag is verhoudings die belangrikste aspek van ons lewens op alle vlakke. Huweliks verhoudings, ouer-kind verhoudings, werks verhoudings en sosiale verhoudings om maar net ‘n paar te noem.

Monday, April 29, 2019

GELUK


GELUK





Sommige mense wag heel week vir Vrydag om aan te breek, heel jaar vir die somer en hul hele lewe om gelukkig te wees. 

Ek dink by myself hoekom maak ons die reëls vir onsself so moeilik om gelukkig te wees en die reëls so maklik om ongelukkig te wees? 

Waar sit hierdie geluk skakel van ons wat ons as kind gehad het? Om saam met jou hond in ‘n dam te kan swem en ‘n sprinkaan se vang ons nog kon laat lag. 

Nou besef ons eers dat dit daardie klomp klein dingetjies was wat ons laat lag het en gelukkig laat voel het vir daardie oomblik en die geluk storie eintlik ‘n reis is en nie iets waarby jy arriveer nie.

Kan die geluk-ding ons ook oorval sodra ons net bietjie laat los om altyd inbeheer te probeer wees, te veel beheer druk die geluk gogga dood en voed frustrasie. 

Hoe gou het ons verleer om nie net in hierdie oomblik te leef nie, nie te fokus op die boublokkies hier reg voor ons nie. Kan ons weer terug keer om soos ‘n kind net weer elke dag se klein dingetjies te geniet, die eenvoudige gratis dinge om ons.

Dit is geluk vir my...

Tuesday, March 5, 2019

Thursday, January 24, 2019


Die onbekende...

Dit voel nie goed nie en die onsekerheid oor die toekoms maak die hier en nou onaangenaam en voel ons verlore. Ons vra in die Onse Vader vir ons daaglikse brood en is dit al waarop ons werklik kan aanspraak maak, net vir vandag se stukkie. 

Een sandkorrel op ‘n slag, is al wat van ons gevra word, nie om emmers vol sand te dra nie. Die realiteit is dat een sandkorrel baie swaar weeg as jy voel hoe die chemo in jou are plek maak. Hier waar die tekkie die teer slaan, hier waar jy geleef het tot nou, gevoel het, vol gemaak het en gedink het tot nou toe...alles van hier af, nou anders.

Die gewoel binne-in gedagtes is die ergste, waar elke gremlin met moontlike senarios baklei om voor in die ry te staan.

Ons smag na ongekende rus en vrede in ons gemoed wat tot hiertoe net woorde was wat ons mekaar toewens, daardie woorde word nou die ervaring en die eerstehandse belewenis.

Hier staan ons nou amper op die einde van die eerste maand, met elkeen se pakkie klaar gelaai en trek van ons al klaar swaar. Woorde op ons lippe van droogtes, siektes, verliese, ekonomie en regering is al klaar genoeg om ons binnekant om te dolwe.

Mag God se genade so wyd wees dat ons hierdie jaar mekaar kan ontmoet by die water en die groen weivelde wat op ‘n unieke manier vir elkeen van ons wag.

Wednesday, January 2, 2019




Nou in my wêreld...

Kanker, ...ek hoor dit, sien dit, beraad dit en ervaar dit om my...

Maar dis anders, net ‘n bietjie anders, ...as dit ek self is, ‘n familie lid is, naby aan die huis is, ‘n goeie kennis is...dan raak dit ewe skielik...anders...

Juis nou soek ek “my” individue om my, om op ‘n lang opdraande reis waar energie al amper op gespandeer is te stap, om tussen mede arms van warmte, liefde en hoop te kan wees...om buite myself te kan reik en saam, vanuit ‘n ander se perspektief, te kan verstaan...omdat ek soveel keer as wat ek wil met God mag en kan praat oor die moeilike pad wat geloop moet word, hoe dit my raak, geliefdes raak.

My gedagtes wanneer ek met God praat, skakel in op God se perspektief en Hy kom sê dat my omstandighede en wat fisies met my en hartsmense aan die gebeur is, bepaal nie wie en wat ons is nie!

“...en Hy het Hom na my toe NEERGEBUIG en my hulpgeroep gehoor.”(Ps 40:2-33 vertaling) Hy na my! Hy WEET! Hy KEN my seer, hartseer, vrese...Hy WEET! En juis DIT is vir my genoeg.

Ek is hartseer, bang, maar ervaar tog ongekende vreugde by Sy voete. Ons is stukkend, rou en kwesbaar, maar Hy weet. Net vir vandag, net hier, hierdie oomblik wil ek net diep asem haal en Sy warm liefde en genade ervaar soos Hy elkeen met verlies, met seer, met pyn, met vrees wil gebruik om Sy groter prentjie te help voltooi.

Dit is nodig, maar moeilik om afskeid te neem van ‘n fase, ‘n geliefde, van omstandighede en elke keer gaan dit gepaard met die emosies en ervarings van die dood. Ontkenning, woede, onderhandeling, depressie en aanvaarding...moeilike, harde stadiums om deur te gaan.

Realiteit is, as unieke individue is die laat los vir elkeen anders en nie noodwendig in dieselfde volgorde nie, maar is elke stap tog nodig vir volkome herstel, vir aanbeweeg, vir lewe.

Net om die lewe te leef met nuut gevonde kennis, ervarings, sterker emosies en beter val en opstane...maar, elke keer gun ek myself ‘n kans om te rou, dit is ‘n normale reaksie op verlies. Die gevoelloosheid, hunkering en verlange, disorganisasie en wanhoop en dan die herorganisering van my lewe. Om volgende keer fyner te luister na my emosies, wat my iets wil vertel en leer.  

Sunday, December 9, 2018





















Besig om emmers vol te maak!!!

Die kuns...volgens Gary Chapman...is om 5 emmers in ‘n verhouding te vul, party meer as ander....of as jy soos ek is, hou ek van my emmers ewe vol, ALMAL! 

Maar vandag was ek besig met die ...kwaliteit tyd se emmer. (Kon tot my spyt nie ‘n woord praat nie, maar dit het die doel gehaal.)

Ewe skielik betree ons nou ‘n ander fase, kinders is nou groot genoeg om alleen op die plaas gelos te word (onder skoonouers se toesig, natuurlik)...as hy gedink het die eerste 20 jaar was maklik, het ek nuus vir hom vir die volgende 20!!!!

Ek dink vandag aan die prentjie waarmee ek groot geword het en onbewustelik raak dit jou raamwerk vir die lewe vorentoe. Jy doen presies so, of definitief die teenoorgestelde, tog is dit juis daardie invloed wat jou die keuses laat maak het. Jou onvervuldheid het iewers ‘n begin gehad waar jou emmer begin lek het...dit is waar die herstel kan begin.

Elke fase in jou lewe het nuwe uitdagings...wittebrood fase, kind fase, middel jarig (wat presies is dit?), as jy gelukkig is het jy dit al iewers vroeër gesnap.

Volgens Erik Erikson se stadiums, sukkel ‘n jong volwassene met intimiteit vs isolasie. Volwassenes met besorgdheid vir die toekomende generasies  vs stagnasie en dan moet ons nog die huwelik se stadiums ook in die lug hou. Tussen 2 en 10 jaar moet die emotionele aspek aangespreek word waar die verhouding tot volwassenheid moet groei. Die uitdagings in hierdie stadium is om die romanse lewendig te hou, om die apartheid en saam wees tye te balanseer en te konsentreer op die hernuwing van die huweliks verbintenis. Die middel huweliks periode, 10-25jaar, is die kritiese take om aan te pas by die veranderinge van die middeljare, heronderhandeling van vriendskappe en ook die hernuwing van die huweliks verbintenis.

Om net te weet in watter stadium jy in jou lewe is, maak die happies kleiner wat gekou moet word.

Sodra ‘n mens se emmers vol is, tree ‘n mens anders op!

Kan ons meer moeite maak om uit te vind wat is belangrik vir die ander persoon in jou verhouding? Sodra jy iets doen of sê vir iemand wat uit jou gemaksone is en dalk nie in jou sterk afdeling van jou karakter val nie, maar die ander persoon laat hoor en voel...is jy besig om liefde te bewys! Wat op ‘n emotionele vlak gebeur is wat tel..soos Chapman sê:...

” The important thing emotionally is that we are spending focused time with each other. The activity is a vehicle that creates the sense of togetherness.”

Wednesday, June 6, 2018

...die droogte raak nou nogal 'n interessante prentjie. Die rivier begin mik om nou al vir jaar 5 droog te lê. Boere staan en gesels terwyl die bakkies geparkeer staan in die ry tydens die voer uitdeling. Ek hoor net kla, murmurering, maar waar anders kan jy ontlaai, as dit nie is met 'n mede boer wat ook op sy knieë is nie? Hier en daar is darem nog 'n wese wat probeer moed inpraat...maar hulle raak nou min. Een ding is seker, mense wat ek die laaste 10jaar leer ken het, het ewe skielik ander karakter trekke waarmee tred gehou moet word! Party hou nog aan met skop, ander onttrek hul net eenvoudig, maar die voer uitdelery, raak nou 'n ...elkeen vir homself en duur proses, want verniet beteken nie heeltemal gratis nie! Ons gemaklike dag tot dag gebeure, word nou uitgedaag. Dalk het ons bietjie vergeet dat ons mekaar nogsteeds nodig het.......vandag is een dag nader aan die reën...

Ontdek jou unieke self 
deur uit jou gemaksone te beweeg!



Die droogte is 'n tydperk waar jou karakter 
gebou of geknak kan word. Hoe diep gewortel is jou geduld, hoop en vertroue in die tyd? Die manier hoe ons reageer, optree en praat oor die droogte, is 'n bewys hiervan.